Kix reik uit na Malawi (2017), Japan (2018) en Kenia (2019)

Almal onthou die muntleggings wat die Kinderkrans (NG Kerk) gedoen het en die Kinderbond (VG Kerk) steeds doen ten bate van verskillende sendingaksies. Hierdie projekte het van kleintyd af vir ons bewus gemaak van die getuieniswerk wat dwarsoor die wêreld gedoen word. Sending is steeds ‘n belangrike doel van Kix en daarom het ons elke jaar ‘n uitreikprojek wat ons ondersteun.

Julle sal onthou dat die projek “Kix Koester Kinders” in 2017 die kerk se crèches in Malawi ondersteun het. Verlede jaar (2018) het “Jesus vir Japan” die kinders bewus gemaak van “Missie Japan”. Kix-groepe in 18 gemeentes het bygedra en daar is in totaal R55 342 ingesamel vir die kinderwerk in Japan!

Vanjaar (2019) is die projek se naam “Kix na Kenia” en dit is nog nie te laat om deel daarvan te raak nie. Daar is ‘n spesiale projekles in die eerste kwartaal van 2019 se kwartaalblad (ook op hierdie webtuiste) beskikbaar. Volg gerus die nuus hieroor op Facebook: Kix Kinderbediening.

Baie dankie vir elke bydrae, groot en klein. Dit is regtig wonderlik dat ons kinders reeds van kleins af harte ontwikkel vir die wêreldwye verspreiding van die Goeie Nuus van die Evangelie.

Groete uit die Jeugkantoor

Ds Anriëtte de Ridder

Kix reis na Kenia in 2019!

’n Splinternuwe jaar, 2019, lê voor met splinternuwe Kix-ontmoetings. Ons hooftema is “Op pad met Jesus” en ons kwartaaltemas is:

  • Kwartaal 1: Dapper Dissipels
  • Kwartaal 2: Padlangs met Petrus
  • Kwartaal 3: Geheime van die Koninkryk
  • Kwartaal 4: Wonderlike Wonderwerke

Ons sien baie daarna uit om hierdie kwartaal nader kennis te maak met die dissipels van Jesus.

Ons wil ook graag hierdie jaar hoor waar en hoe Kix-ontmoetings oral gebruik word. Ons weet van Kix-groepe wat saam met sopkombuise gebeur. Ons hoor van Kix-groepe wat in kerksale plaasvind waar ‘n hele gemeenskap se kinders welkom is. Soms word Kix-materiaal gebruik in kategese of selfs deur predikante in die eredienste. Laat weet ons asseblief waar jy die materiaal gebruik om kinders aan Jesus en die Bybel voor te stel. Stuur sommer ‘n foto of ‘n video met ‘n kort getuienis na die Jeugkantoor wat ons kan deel.

‘n Belangrike deel van Kix is om kinders aan die groter wêreld bloot te stel. Hierdie jaar se sendingprojek fokus op die werk wat deur die kerk in Kenia gedoen word. Met ons projek “Kix na Kenia” gaan ons op safari! Gebruik die projekles, kaart en skuifstukkies wat julle kan aflaai op hierdie webtuiste om die kinders meer te leer en te motiveer oor die projek. Dankie vir almal wat gereeld aan die projek deelneem; dit sorg altyd vir groot opwinding onder die kinders!

My gebed vir jou is dat jy ook hierdie jaar sal groei as ‘n dissipel van Jesus!

Vriendelike groete,

Anriëtte de Ridder

Ons kyk terug na ‘n suksesvolle Kinderkonferensie

Ons loop nog op die wolke na Kix se opwindende Kinderkonferensie op 11 en 12 September 2018. Baie Kix-leiers en ander kinderbediening-leiers uit alle denominasies is “Toegerus vir die Toekoms”. Ons is die Here baie dankbaar vir al die Kix-leiers wat getroue kinders van Jesus is en beter toegerus is vir hul bediening.

Videogrepe van die hoofsprekers se aanbiedings asook van ‘n paar werkswinkels wat aangebied is, sal binnekort op hierdie webtuiste beskikbaar wees.

Ons het ‘n baie bedrywige en geseënde jaar by Kix agter die rug! Vanjaar het die eerste Engelse vertalings van die Kix-ontmoetings die lig gesien. (Dit is op hierdie webtuiste beskikbaar.) Die “Jesus vir Japan”-projek het gesorg vir wonderlike kreatiewe ontmoetings en fondsinsamelings asook verdiepte verhoudings met ons vennote by Missie Japan.

Mag jy die laaste kwartaal van 2018 ook soos Paulus in 1 Timoteus 1:12 getuig: “Teenoor Christus Jesus ons Here is ek dankbaar: Hy het my krag gegee en my betroubaar geag om my in sy diens te stel.”

Ons verwelkom Maryke Fourie in die Jeugkantoor. As ‘n jong oud-onderwyseres en langafstandatleet is ons seker sy het oorgenoeg kreatiwiteit, ervaring en energie vir die Jeugkantoor. Maryke, ons bid vir jou ‘n geseënde tyd toe in jou nuwe werksomgewing.

Waarna sien ons uit in 2019? ‘n Splinternuwe projek word aangepak, naamlik Kix na Kenia. Ontmoetings in Afrikaans en Engels word op die oomblik geskryf oor die dissipels, oor Petrus se lewe en oor Jesus se gelykenisse en wonderwerke. Ons visie is dat al hoe meer gemeentes en individue Kix.Kom sal gebruik om kinders in kerke, skole, nasorgsentrums en gemeenskapsale te bereik vir Jesus!

Vriendelike groete, Anriëtte de Ridder

Die Kinderkonferensie is om die draai!

 

“I can’t change the direction of the wind, but I can adjust my sails
to always reach my destination.” (Jimmy Dean)

Die wêreld verander so vinnig en soms voel ‘n mens oorweldig deur al die uitdagings wanneer jy kinders begelei. Die Kix-Konferensie Toegerus vir die Toekoms is ‘n ideale geleentheid vir jou en ander Kix-leiers, kategete, jeugleiers, ouers, jeugwerkers en predikante om oor die geleenthede van die toekoms na te dink. Kom luister na relevante sprekers, woon praktiese werkswinkels by, ontdek nuwe hulpbronne en netwerk met ander kinderbedieningsleiers. Nooi jou mede-Kix-leiers en ander belangstellendes om saam te ry en skryf dadelik in vir dié geleentheid op 11 en 12 September 2018. Die inskrywingsfooi van R300 per persoon sluit al die sessies deur die hoofsprekers, ‘n aantal werksessies (met benodigdhede), koffie, tee en middagetes vir albei dae in. (Kontak gerus die kantoor vir ‘n borg as jul hulp benodig.) Inskrywings kan gedoen word deur aanlyn by https://goo.gl/forms/sDipMigRwOnZzrsj1 te registreer.

Laai hier af: Program en inskrywingsvorm

Kom span jou seile sodat jy op die winde van verandering kan vaar! Ons sien daarna uit om jou daar te verwelkom.

Onderwerpe van die hoofsprekers:

  • Hoe kan ons ons kinders toerus vir die toekoms?
  • Die binnewerking van kinders met uitdagings
  • Kinders in vandag se skolekonteks
  • Die impak van tegnologie op kinders

Kursusgangers kan elke dag twee van die volgende werkswinkels bywoon:

  • Tekentegnieke
  • Leer buikspraak met handpoppe
  • Hoe begin ons ʼn Kix-groep?
  • Kreatiewe gebed met kinders
  • Fasilitering van ʼn groepie
  • Hantering van boelie-gedrag
  • Depressie onder kinders
  • Gewoontes in die huis
  • Kinders en musiek
  • Aanbiedingstegnieke
  • Bediening in skole
  • Gebruik tegnologie in kinderbediening

Jammer!

Die Jeugkantoor vra om verskoning vir versendingsprobleme wat met die tweede kwartaal se Kix.Koms gepaard gegaan het. Indien jy enige probleme ondervind het wat nog nie aangespreek is nie, kontak ons asseblief per e-pos by jeug@sun.ac.za of telefonies by 021 808 9050.

Ons deel opwindende nuus!

Teen hierdie tyd is almal al goed op dreef met Kix 2018 se ontmoetings: “Vreemde en Crazy stories in die Bybel”. Ons is dankbaar oor elke Kix-leier wat met die kinders werk in gemeentes, gemeenskappe, skole en nasorge. Ons hoor ook hoe Kix-groepe besig is om te woeker met die “Jesus vir Japan”-projek en ons hoor van kinders wat al in Japannees kan groet! Stuur gerus jul foto’s en video opnames vir ons om te deel.

Ons verwelkom Ronelle de Graaf as die nuwe sekretaresse in die Jeugkantoor. Skakel haar gerus vir enige navrae oor Kix-sake (e-pos: jeug@sun.ac.za; telefoon: 021 808 9050).

Opwindende nuus is dat die Kinderbedieningskonferensie om die draai is: 11 en 12 September 2018! Kix hou gewoonlik elke 4 jaar ‘n een-dag sinode waarheen alle Kix-leiers genooi word. Hierdie jaar hou ons ‘n groter twee-dag Kinderkonferensie waarheen ons ook alle ander kinderbedieningsleiers nooi. Dus word alle gemeenteleiers, predikante, kategete, ouers, oumas en oupas, onderwysers, jeugwerkers en almal wat met kinders werk, ook uitgenooi. Die konfe-rensie se tema is: “Toegerus Vir Die Toekoms”. Die dinamiese sprekers en praktiese werkswinkels sal oor ‘n verskeidenheid temas handel wat hierby aansluit. Kom leer hoe om tegnologie in te span, met ouers te werk en die nuwe geslag kinders (Generasie Y) beter te verstaan. Kom kry nuwe aanbiedingsidees en leer om kreatiewe vaardighede te gebruik. Kom koop hulpmiddels en kom gesels met ander mense en bedieninge wat met kinders in Suid-Afrika werk. Jy sal verseker toegerus wees vir die toekoms na hierdie heerlike twee dae! Die konferensie sal plaasvind in die noordelike voorstede van Kaapstad, maar die presiese plek en reëlings sal nog deurgegee word. Slaapplek en vervoer word deur deelnemers self gereël.

Ons sien daarna uit om jou en jou mede-Kix-leiers (en almal wat met kinders werk) daar te verwelkom!

Vrede en vreugde
Ds Anriëtte de Ridder

Uit ‘n ander hoek

’n Nuwe jaar… nuwe dinge… nuwe idees… nuwe moontlikhede… nuwe inspirasie en nuwe motivering. Ook vir ons betrokkenheid by Kix en Sonstraaltjies. Mag die inspirasie van die Heilige Gees jou vanjaar help om toegewyd te wees in jou bediening aan die jeug. Hulle is immers ons toekoms.

Die Kix-pirasie (’n Kix-nuutskepping van Kix en inspirasie) onderaan hierdie bladsy kan gebruik word aan die begin van elke kwartaal om leiers/leidsters toe te rus.

Nadat ons die afgelope drie jaar die Bybel chronologies deurgewerk het met “God se groot storie met die mens”, het ons vanjaar egter ‘n nuwe invalshoek. In die eerste kwartaal (hierdie uitgawe van Kix.Kom) kyk ons na Vreemde Vroue stories; in die tweede kwartaal gaan ons hoor van ‘n Paar Prettige Profete stories; in die derde kwartaal hoor ons ‘n klompie Snaakse Dierestories en  in die laaste kwartaal kyk ons na ‘n paar Crazy Kinderstories. Klink interessant, nè?

Vanjaar gaan ons ver, ja regtig baie ver, betrokke wees met ons projek. Missie Japan is ‘n organisasie van ons kerk wat al langer as 45 jaar betrokke is in Japan (www.missiejapan.co.za). Deur ons projek “Jesus vir Japan” wil ons saam met hulle veral uitreik na die jeug van Japan. In ons projekles is baie inligting, asook die fondsinsamelingsmetode. Verder is daar by elke ontmoeting eers ‘n stukkie “spioentyd” waar ons meer oor Japan uitvind op ‘n baie interessante manier.

Indien jy nuut is by Kix of Sonstraaltjies en enigiets wil weet, skakel gerus die Jeugkantoor (021 808 9050).

Ons nooi jou nou al uit na ons groot Kinderbedieningskonferensie “Toegerus vir die Toekoms” op 11 en 12 September 2018. Hierdie is die een geleentheid vanjaar wat jy nie mag misloop nie! Teken solank die datums in jou dagboek aan; ons sal in volgende kwartaal se Kix.Kom al die inligting hê.

Mag die Here jou in 2018 op ‘n besondere manier gebruik in die kinderbediening!


Jeugkantoor info:
e-pos: jeug@sun.ac.za
telefoon: 021 808 9050

Wie hou nie van geskenke nie?

Dis darem heerlik om ’n geskenk te kry! Die ekonomie plaas oral druk op ons en aan die einde van die jaar wil ons nog spaar vir Kersgeskenke ook! Het jy geweet ’n doelwit van KIX is om gratis materiaal vir Kinderbedieninge dwarsoor Suid-Afrika te verskaf? Dis darem heerlik om te weet dat daar nog kwaliteit hulpbronne vrylik beskikbaar is om jou te ondersteun in jou roeping om kinders te bedien. Dis ’n heerlike geskenk! En nog ’n groot droom is dat ons volgende jaar ons materiaal ook in Engels beskikbaar sal hê.

Ken jou feite: Weet jy … ?

  • Kix is ‘n nie-winsgewende bediening!
  • Die koste per gedrukte uitgawe dek bloot die druk- en versendingskoste.
  • Die projekgelde wat deur Kix-groepe ingesamel en na die kantoor gestuur word, word elke jaar 100% oorgedra aan die beoogde sendingprojek/organisasie. (Hierdie jaar is dit Kix Koester Kinders.)
  • Die skrywers word nie betaal nie. Hulle is gewone Kix-leiers wat hul gawes deel.
  • Kix word gebruik in skole, nasorgsentrums, kerke en uitreike regoor die hele land.
  • Voortaan het julle ook die keuse om teen R100 per jaar in te teken om die “dropbox link” met al die kwartaal se nuutste materiaal per epos te ontvang. Dit is geriefliker, aangesien julle dan nie die lesse een-een van die webwerf hoef af te laai nie. Voordat die gedrukte uitgawes gepos word, sal julle die “dropbox link” ontvang met al die materiaal in een lêer. Die donasie help ons en dis uiters gerieflik vir jou!
  • Tydens die Kix-Konferensie in September 2018 sal van die ou materiaal ook in boekvorm te koop wees.

“Maar hoe kan ‘n mens Hom aanroep as jy nie in Hom glo nie? En hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie? En hoe kan jy van Hom hoor sonder iemand wat preek? En hoe kan iemand preek as hy nie gestuur is nie? Daar staan ook geskrywe: ‘Hoe wonderlik klink die voetstappe van dié wat die goeie boodskap bring.’” – Romeine 10:14-15

Dankie vir elkeen wat onbaatsugtig diens doen om ons Kix-kinders die gratis geskenk van die evangelie te gee! Mag jy opnuut bewus raak van die geskenke wat die Gees ook vir jou in die proses gee!

Dis winter!

Ons is in die tweede helfte van die jaar! Dis winter, dis koud. Dit word gou donker en ons hoop dit sal baie reën. Dit beteken gewoonlik dat Kix-byeenkomste swakker bygewoon word. Die skryfbehoefte-mini projek is ‘n wonderlike manier om Kix-kinders te motiveer om te kom ÉN om ‘n verskil te maak. Sending is tog die hartklop van Kix! En dit is boonop in die winter dat mense in nood die swaarste kry…

Teen hierdie tyd weet jou groep al dat die Kix-projek van die jaar Kix Koester Kinders genoem word en dat ons geld insamel vir skryfbehoeftes vir die behoeftige crèches in Malawi. Julle kan egter ook bykomend ‘n plaaslike organisasie wat fokus op vroeë kinderontwikkeling, ondersteun. Op hierdie manier kry die Kix-kinders eerstehandse blootstelling aan die nood in julle eie omgewing.

Hoe vind ons ‘n plaaslike projek?

  • Dink aan al die plekke in jul dorp of omgewing wat met babas of kleuters werk (sien die “infographic” vir idees).
  • Kies ‘n paar plekke en lê besoek af om inligting in te win (een of twee leiers kan gaan).
  • Kies daarna een plek waar jul as Kix-groep ‘n praktiese verskil kan maak deur bv. iets in te samel (soos doeke, klere, speelgoed of blikkieskos) of iets te maak (soos kaartjies, prente, ‘n banier of koekies).
  • Beplan ‘n besoek om ‘n oorhandiging te maak en so die Kix-kinders aan die gemeenskap bekend te stel.
  • Neem foto’s en stuur dit na jeug@sun.co.za. Ons plaas dit graag in die Kix.Kom.
  • Hou vol om deurgaans die inligting oor Malawi te deel en daarvoor geld in te samel.

Mag Jesus jul harte warm hou hierdie wintertyd!

Uit die kantoor – April 2017

Ons is so opgewonde oor die eerste kwartaal! Die Nuwe Testament ontmoetings het tot heerlike byeenkomste gelei. Ons was ook baie opgewonde om te hoor hoe verskillende skole en kerke die Kix-materiaal gebruik. Enigiemand is welkom om ‘n Kix-groep by ‘n nasorg, gemeenskapsaal of kerk te begin. Die volledige inligting oor hoe om dit te doen en hoe die materiaal werk is ook aanlyn beskikbaar.

Hierdie jaar se projek, “Kix Koester Kinders”, fokus op die ondersteuning van voorskoolse kinders plaaslik asook die werk wat in Malawi in kleuterskole gedoen word. Ons is so opgewonde oor die terugvoer wat ons reeds ontvang van Kix-groepe wat geld insamel – die Kix-kinders is vol entoesiasme om die skryfbehoefte “mini’s” bymekaar te maak!

Kontak gerus die Jeugkantoor vir enige navrae.

jeug@sun.ac.za | 021 808 9050

2017 – ‘n Nuwe Jaar Vol Opwinding

Welkom aan almal wat deel is van die KIX-familie… by kerke, skole, Kinderbondtakke, kleuterskole, nasorg, kategese groepe en nog baie meer!

DIE KIX-DROOM

Die Kix-droom is dat daar in elke gemeenskap ‘n KIX-groep sal wees, hetsy by die kerk, skool, kleuterskool of nasorg, waarin elke kind Jesus kan ontmoet en saam die Bybel kan leer ken. Dankie dat jy deel is hiervan!

KIX 2017

ONTMOETINGS

Daar word elke kwartaal 6 – 8 lesse (ons noem dit eerder ontmoetings) op die webblad gelaai. Ses of sewe ontmoetings gaan oor die Bybel. Ons is hierdie jaar opgewonde om chronologies deur die Nuwe Testament te reis! Daar is elke kwartaal ook ‘n spesiale les oor of idees vir die kerkjaar (byvoorbeeld Paasfees, Kersfees, ens.). Daar is selfs iets vir spesiale geleenthede soos Moederdag en Lentedag.

KIX-PIRASIE

Elke KIX-groep het vrywillige leiers nodig. Dit is tieners of volwassenes met ‘n liefde vir Jesus en kinders wat kan help met groepwerk en om verhoudings te bou. Gebruik die begin van die jaar om genoeg leiers te werf deur die KIX-droom met hulle te deel. Die KIX-aanbieder het ook die verantwoordelikheid om die leiers te versorg. Gebruik die KIX-pirasie om jou leiers geestelik op te bou.

DIE KIX-PROJEK

KIX moedig kinders deurentyd aan om ook ‘n omgee vir die wêreld te ontwikkel. Daarom is daar ook elke jaar ‘n na-buite gerigte projek wat deur al die KIX-groepe saam ondersteun word. Die KIX-projek fokus hierdie jaar op die ondersteuning van vroeë kinderontwikkeling (VKO) en word genoem “KIX Koester Kinders”. Daar is twee bene – ‘n sending been en ‘n plaaslike been.

  1. Die sending been

Die idee is dat julle as groep deur die jaar geld insamel vir skryfbehoeftes vir die 5 behoeftige kleuterskole in Malawi met wie KIX ‘n verhouding het. Die kinders in jou KIX-groep raak op dié manier bewus van ‘n ander land, kultuur en taal en hulle leer hoe God wêreldwyd vir sy kinders sorg. Ons sal al die inligting oor hierdie deel van die projek verskaf.

Stap 1: Maak die kinders bewus van die projek en opgewonde om ‘n verskil te maak

Stap 2: Deel gereeld inligting (foto’s en stories) oor die Malawi créches.

Stap 3: Leer saam die woordjies in Chichewa.

Stap 4: Besluit hoeveel jul wil insamel en gebruik die skryfbehoefte handwerk items as motivering. (Sien bl. XXXX vir die besonderhede.) Maak dit ‘n groeppoging en hou die kinders weekliks op hoogte. Julle kan selfs jul gemeentes motiveer om ook by te dra.

  1. Die plaaslike been

Dit sal goed wees om egter ook in jou eie gemeenskap (of naby aan julle) ‘n plaaslike inisiatief te ondersteun. Wat kan julle doen?

Stap 1: Dink aan ‘n plek wat babas of klein kinders in jul gemeenskap versorg. (Kliniek, hospitaal, kinderhuis, sopkombuis, plek van veilige bewaring, pleegouers, kango-ouers, ens.)

Stap 2: Identifiseer ‘n behoefte waarmee jul kan help (dalk speelgoed of klere insamel, kaartjies maak, speel met kinders of gebed).

Stap 3: Deel inligting en foto’s met jou KIX-groep en bid vir hulle. (Onthou om ook terselfdertyd vir die kindertjies van die Malawi-been van ons projek te bid.)

Stap 4: Reël ‘n KIX-uitstappie om hulle te gaan besoek.

KIX OP DIE INTERNET

Jy kan KIX op pinterest volg: www.pinterest.com/k_kom/ en op facebook onder www.facebook.com/KixKinderbediening/ of www.facebook.com/groups/475678379142624/

Ons bid vir julle in dankbaarheid (volgens Paulus se gebed in Efesiërs 1: 15-23) dat julle hierdie jaar Jesus se geskenke van wysheid, hoop, rykdom en krag deur Sy Gees sal ontvang!

1 2